Beste familiegenoot

Goeie kommunikasie vereis dat ‘n mens tred met die veranderende tye en nuwe media moet hou.

Ons het agtergekom dat al hoe minder ontvangers van die gereelde Krige-nuusbrief dit dadelik oopmaak en dat dit in die hedendaagse oorvloed van e-posse laer afskuif tot dit dan uit die oog verdwyn.

Ek glo nie dat dit verband hou met ‘n kwynende belangstelling in die familie nie, want daar is goeie medewerking van Kriges om materiaal vir nuwe Krige Nuusbriewe te voorsien en die samewerking met lede van Feeskomitee is flink en positief. Terloops, die Krige 300 Fees is nou na aanstaande jaar se Desember uitgestel.

My vermoede is die feit dat so baie mense deesdae weens die Covid 19-maatreëls vanaf die huis werk, ‘n groot rol speel. Besigheidsaangeleenthede moet uit die aard van die saak  voorrang geniet en teen die einde van die dag maak jy die rekenaar vir sowel sake as persoonlike dinge toe.

Met hierdie hooftrekke probeer ons ‘n direkte aanslag om jou bewus te maak van onlangse familiesake en interessanthede:

Nuusbrief 136

  • Sybil Scott, ‘n gebore Krige, kry op haar 100ste verjaardag gelukwense van die Britse Koningin. Hoe het dit gebeur?
  • Een van die Krige-familiegroepe voltooi na byna 30 jaar sy kringloop met die Sederberge. Altesame 29 was daar. Deel in hul naweek van hoogtepunte en ‘n goed bewaarde geheim.
  • Skrik-van-Rondom is legendaries in die Krige-geskiedenis. Willie, een van die nasate, vertel wat van hom en sy broers geword het en hoe hulle in die onderwys, joernalistiek en tydens die Grensoorlog diep spore getrap het.
  • Petrus Krige het ‘n eeue-oue boedel en veilingsbrief gebruik om meer te wete te kom oor die stamvader se huisie op Vleesbank, sy plaas qaan die  Bergrivier tussen die hedendaagse Wellington en die stasie Hermon.
  • Laai Krige Nuusbrief 136 hier af

Nuusbrief 137

  • ‘n Artikel in Nuusbrief 123 oor sy familiegroep het Gert Johannes Krige weer laat uitreik na sy neefs en niggies, waarvan hy sommiges 30 jaar laas gesien het. Veral die een in argitektuurkringe, wyle André Corneille, se bydrae word in oënskou geneem.
  • Laai Krige Nuusbrief 137 hier af

Nuusbrief 138

  • Moenie die 15 jarige Meagen se tweede gepubliseerde boek onderskat nie. The Adventures of Rufus handel oor die honde-afdeling van die Teenstropingseenheid in die Groter Nasionale Kruger-wildtuin. Hoewel die boek vir familie en vriende geskryf is, sal sy ‘n tweede oplaag oorweeg as daar genoeg belangstelling is.
  • Petrus Krige vertel oor sy vriendskap met die Duitse familiekundige, wyle Hans-Georg Bleibaum, wat in die jare sewentig deur die Genealogiese Vereniging van Suid-Afrika vereer is vir sy navorsing oor die Duitse wortels van wyle prof Chris Barnard en die families Krige, Conradie en Linde. Heins-Georg kon Afrikaans praat nadat hy in die jare sestig bestuurder van die Evangelies-Lutherse Kerk in Suidwes-Afrika was.
  • Die sterk verbintenis van die familie met Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch word onder die loep geplaas.
  • Edgeout, ‘n moderne en goed-toegeruste nuwe ligte woonwa van plastiek, is deur Krige-entrepeneur Retief ontwerp en word deur sy onderneming gebou. Produksie is nou in volle swang en Retief kan nie voorbly met al die bestellings nie.
  • Laai Krige Nuusbrief 138 hier af

Ander Interessanthede

Die lekker van 'n familie-boek skryf

Johan Krige deel sy Krige Annale-ervarings.

Lees verder

Krige Wynmakers

Reeds vanaf die tweede generasie het die Kriges rondom Stellenbosch wyn gemaak.

Lees verder

Spesiale Aanbod Op Die Krige Annale

Kersfees is om die draai!

Lees verder