Alle Krige-aandenkings wat sedert 1970 versamel is, word in die Krige Museum en Argief in Stellenbosch by Caledon Villa bewaar. Dit behels hoofsaaklik briewe, dokumente, tydskrif-artikels, foto’s en boeke. Verskeie portrette vorm ook deel van hierdie versameling.

Caledon Villa, Stellenbosch – tuiste van die Krige Bond en Krige Museum
Caledon Villa, Stellenbosch – tuiste van die Krige Bond en Krige Museum

In die Museum is daar uitstallings van verskillende voorwerpe soos

  • Boeke wat deur Kriges oor ‘n periode van meer as 100 jaar geskrywe is – tans sowat 60 eksemplare.
  • Porselein- en glasware wat ‘n direkte verband met die voorgeslagte het.
  • Dagboekies en spesiale dokumente van voorsate wat aan die museum oorgedra is.
  • Gewone gebruiksvoorwerpe uit die familie wat vandag van kultuur-historiese belang is. 

Sentraal in die museum is die Swaard van Lohengrin. Dit vang gewoonlik heel eerste die oog van die besoeker aan die uitstalling. Die verhaal van Lohengrin - wat in die 7de nC geleef het – en die replika van sy majestieuse swaard word kleurvol uiteengesit.

Dokumente en foto's

In die Krige Argief is daar letterlik duisende briewe – meestal per hand geskryf – wat per tak en per indiwidu georden en geliasseer is. As ‘n besoekende Krige dus wil sien hoe sy/haar oupa se handskrif gelyk het, dan is daar wel ‘n kans om dit onder oë te kry. Daar is ook baie dokumente en biografiese notas van Kriges wat reeds oorlede is en waarvan die inhoud nog nie werklik ontsluit is nie. Iemand sou byvoorbeeld nog ‘n sinvolle studie oor die Kriges se deelname aan die sendingaksie in Afrika van 100 jaar gelede kon maak!

Albums

Nog ‘n bron met interessante inligting is die Album-reeks wat ook volgens tak georden is. Daar is byvoorbeeld vyf albums wat op die Prins Albert-tak betrekking het. In totaal is daar tans 26 sulke albums waarin koerantknipsels, foto’s, gedrukte materiaal en historiese bronne aangebied word. Vir ‘n besoeker sou dit maklik wees om by sy naby-verwante uit te kom en miskien nog homself ook in die Krige Argief aan te tref!

Voorbeeld van 'n tipiese Krige tak-album
Voorbeeld van 'n tipiese Krige tak-album

Van sekere Kriges is daar heelwat inligtingstukke en daarvan word dan ‘n Versameling gemaak sodat die materiaal steeds toeganklik is. So is daar byvoorbeeld ‘n Alice Krige Versameling. Ander Kriges het weer die neiging om baie te skryf en niks weg te gooi nie! En dan is daar die paar uitsonderings wat die gawe het om gereeld in die openbare pers te verskyn!

Kunswerke

Oor die jare is ‘n poging aangewend om skilderye deur Kriges aan te koop en ‘n unieke galery te skep.

Kunswerke in die Krige Museum
Kunswerke deur die Kriges

Daar is tans werke van nege kunstenaars uitgestal, maar ons is bewus van nog ander wat ongelukkig ontbreek. Voorstelle en hulp van persone met Krige-kunswerke wat ‘n heenkome soek, sal natuurlik waardeer word!

Kunstenaar Pierre Volschenk en Johan Krige by die borsbeeld van Uys Krige
Kunstenaar Pierre Volschenk en Johan Krige by die borsbeeld van Uys Krige

Ander Projekte

Krige Nuusbrief

Die Krige-Bond gee sedert 1976 ‘n Nuusbrief uit. Die nuusbriewe beslaan reeds meer as 1,000 bladsye met berigte en beeldmateriaal oor die breë familie.

Lees verder

Krige Grafkelder

Die Kriges se verbintenis met Stellenbosch strek oor bykans 300 jaar. So ook met Moedergemeente.

Lees verder

Byeenkomste

Krige-byeenkomste in Suid-Afrika is reeds in 1973, 1976, 1981, 2001, 2010 en 2022 gehou. Die byeenkoms in 1973 is deur meer as 300 verwante bygewoon!

Lees verder