Krige-byeenkomste in Suid-Afrika is reeds in 1973, 1976, 1981, 2001, 2010 en 2022 gehou. Sonder aarseling kan gesê word dat dat die 1973 byeenkoms, wat op Stellenbosch gehou en deur meer as 300 verwante bygewoon is, die hoogtepunt van die Krige-familie se bestaan in Suid-Afrika was.

‘n Interessante uitvloeisel was dat die Duitse Krieges wel deeglik hiervan kennis geneem het en spoedig hul eie Familienfest gereël het. By hierdie geleentheid in 1978 is Johan en Ode Krige as eregaste in Lienen ontvang!

1973

Hierdie byeenkoms in Stellenbosch word op ‘n nasionale basis gereël. Meer as 300 verwante vanoor die land en selfs uit die buiteland het vir drie dae byeengekom om aan ‘n interessante program deel te neem.

Voorblad van die 1973 Krige-feesprogram
Die voorblad van die feesprogram toon 'n tekening van Boschendal deur Francois Krige

Hoogtepunte:

  1. Verwelkoming in die US Konservatoriumsaal waar aandag onder andere gegee word aan dertien ere-gaste wat reeds ouer as 75 jaar is. Dit spreek vanself dat nie een van hulle vandag meer leef nie.
  2. Die splinternuwe Krige Boek word bekend gestel.
  3. ‘n Braaifunksie op die oewer van die Eersterivier word deur almal bygewoon.
  4. Verskillende bustoere met gidse word na al die historiese familieplase onderneem.
  5. ‘n Musiekkonsert met Kriges op die verhoog word in die Japie Krige-saal van Paul Roos Gimnasium aangebied.
  6. Almal woon die spesiale oggenddiens in Moederkerk by.
  7. ‘n Spesiale uitstalling van Krige-stukke word in die Stellenbosch Museum aangebied.

Verskeie berigte word in die koerante geplaas waarby onderstaande foto telkens gebruik word.

Koerantuitknipsel: Johan en Ode Krige, Jannie Krige, Pat Krige, P Krige Morkel, Eulalia en haar vader Uys Krige
Johan en Ode Krige, Jannie Krige, Pat Krige, P Krige Morkel, Eulalia en haar vader Uys Krige

Daar kan sonder meer gesê word dat hierdie byeenkoms in 1973 die hoogtepunt van die Krige-familie se bestaan in Suid-Afrika was. ‘n Interessante verwikkeling hierop was dat die Duitse Krieges wel deeglik hiervan kennis geneem het en spoedig hul eie Familienfest gereël het. By hierdie geleentheid in 1978 was Johan en Ode Krige as ere-gaste in Lienen ontvang!

1976

Stigtingsvergadering van die Krige Bond

Met die oog op die stigting van ‘n familiebond word alle Kriges landswyd uitgenooi om op 21 Februarie 1976 in Florida byeen te kom. ‘n Presensielys tydens die vergadering toon dat 67 volwassenes en ‘n onbekende aantal kinders teenwoordig is. Professor Daniel Krige tree op as voorsittter. Die volgende punte op die agenda word voorgedra, bespreek en oor besluit:

  1. ‘n Konstitusie – naam, doelstellings en ledegelde.
  2. ‘n Bestuur en Raad van Trustees word verkies en aangestel.

Na afloop van die formele vergadering, verkeer die verwante gesellig saam vir aandete.

Nota: Sedert die samestelling van die Bestuur word bestuursvergaderings gehou met volledige notules en finansiële verslae. Hierdie Notuleboek word steeds op datum gehou en is in die Krige Argief te siene.

1981

Ledevergadering op Buffelspoort

1981 Krige-ledevergadering op Buffelspoort naby Rustenburg

Op Saterdag 4 Julie 1981 word ‘n ledevergadering op Buffelspoort naby Rustenburg gehou. Daar word voorstelle insake die registrasie van die familiewapen, die werwing van nuwe lede en die voortsetting van die Nuusbrief bespreek en aanvaar. Die verrigtinge word met ‘n vleisbraai afgesluit.

2001 & 2010

Plaaslike byeenkomste op Kanonkop

Op ‘n meer informele wyse word byeenkomste vir Kriges in die Wes-Kaap op die wynplaas Kanonkop gehou. Die eienaars Johann en Paul Krige bied goedgunstiglik alle fasiliteite en verversings aan vir die sowat 40 tot 50 verwante. Die dagprogram behels die volgende:

  1. Oggenddiens in Moederkerk en besoek aan Krige Grafkelder.
  2. Formele vergadering oor Krige-Bond sake.
  3. Snoekbraai, soetpatats en wyn uit die kelder
  4. Informele begeleide toer deur die kelder.

2022: Die Krige Fees 300

Siende dat die skip Het Vaderland Getrouw in 1721 by die Kaap aangekom en een van sy bemanningslede genaamd Wilhelm Adolph Kriege daar afgeklim het en toe nooit weer ‘n volgende skip bestyg het nie, word dit as die aankomsjaar van die Kriges in Suid-Afrika beskou. En daarom sou dit vir al sy nakomelinge gepas wees om in 2021 sy aankoms na 300 jaar feestelik te herdenk.

COVID het egter ‘n streep deur die beplanning getrek, en ‘n nuwe datum moes gekies word. So vind die KF300 eers vanaf 16 tot 18 Desember 2022 plaas. Die nuwe datums het gelukkig nie die entoesiasme van die deelnemers gedemp nie. Trouens, die vertraging het daartoe gelei dat daar meer deelnemers – en veral deelnemers van oorsese verwante – tydens die verrigtinge opgedaag het!

1. Johann praat oor sy spogwyne op Kanonkop. 2. Slegs die Vredelust-Kriges voor die Vredelust-opstal tydens Staptoer. 3. Die Kriges bymekaar vir ’n foto voor die Grafkelder na Reniér sy boodskap gelewer het.

Hierdie baie spesiale geleentheid word volledig in die Krige Nuusbriewe beskryf. Kyk gerus na die volgende uitgawes in ons Biblioteek:

1. Sean vertel sy Matie-storie tydens beurtkrag by Markötter. 2. Sosiale samesyn as afsluiting van KF300 op die piekniekterrein van Boschendal. 3. 'n Groepie neefs en niggies van die Oude Libertas Tak verkeer saam in die gazebo in die tuin van Caledon Villa.

Ander Projekte

Krige Nuusbrief

Die Krige-Bond gee sedert 1976 ‘n Nuusbrief uit. Die nuusbriewe beslaan reeds meer as 1,000 bladsye met berigte en beeldmateriaal oor die breë familie.

Lees verder

Museum & Argief

Alle Krige-aandenkings wat sedert 1970 versamel is, word in die Krige Museum en Argief in Stellenbosch by Caledon Villa bewaar.

Lees verder

Krige Grafkelder

Die Kriges se verbintenis met Stellenbosch strek oor bykans 300 jaar. So ook met Moedergemeente.

Lees verder