Die Kriges se geskiedenis begin aan die Kaap. Dit is hier waar die eerste generasies plase bekom het en vanwaar hulle nageslag deur die land versprei het.

Meeste Kriges kan dus hul herkoms aan ‘n plaas koppel. Kom ons begin by die oudste van hierdie ses plase:

Uiterwyk

Hierdie plaas is geleë in die Stellenbosch-Kloof nie ver van die dorp nie. Volgens die koopakte word Burger Johannes Kriego in 1763 die eienaar hiervan. Hy is die jongste seun van die stamvader. Na hom boer sy enigste seun Willem Adolph op die plaas en vanaf 1840 sy kleinseun Johannes Stephanus. Laasgenoemde verkoop egter die eiendom in 1864 nadat dit presies 100 jaar in familiebesit was. Die huidige geboue op die boerdery is almal deur Willem Adolph opgerig. Vanuit Uiterwyk ontstaan latere Krige-takke soos Prins Albert, Paarl, die ZAR en Uiterwyk.

Welgevonden

Hierdie plaas is geleë in die Bottelary – net oor die rand vanaf Uiterwyk. Een van Uiterwyk se seuns Jacob Daniel koop Welgevonden in 1841 en begin boer, nie net met wingerde nie, maar ook met ‘n groot gesin. Hy en sy eggenote Maria sorg vir sy noemnaam Vader Jacob omdat hy – soos die Bybelse Jacob – twaalf seuns op die plaas grootmaak.  Die plaas word mettertyd uitgebrei deur nuwe aankope omdat Vader Jacob besef het dat daar baie seuns in die gesin is! Maar later as sy oudstes begin selfstandig raak, word plase nader aan die dorp eerder gekies. Van die jongste seuns bly egter aan op dele van die vergrote Welgevonden en hulle vorm die basis van die Bottelary Tak.

Vredelust

Hierdie boerdery grens aan Dorpstraat in Stellenbosch en strek oor die Eersterivier tot by die voetheuwels van Stellenboschberg. Die oudste seun van Vader Jacob heet Willem Adolph en hy tree in die huwelik met Louisa Ackermann. In 1870 koop Willem Adolph die plaas Vredelust van sy skoonpa en begin met wingerd boer. Hy doen goed en wen gereeld trofieë vir die beste wyne in die distrik. Sy seun Wakkie neem later die boerdery oor. Soos sy vader stel hy meer belang in politiek en word soos sy vader as Stellenbosch se Parlementslid verkies. Geleidelik word sy boerdery oor vervang met dorpsuitbreiding totdat daar vandag geen wingerde op Vredelust oor is nie. Dit het heeltemal in ‘n woongebied verander. Die nageslag van die nege kinders vorm die Vredelust Tak.

Libertas Parva

Hierdie boerdery grens ook aan Dorpstraat in Stellenbosch en strek vanaf die meulstroom tot oorkant die Eersterivier en tot by die ou stasie aan die voet van Pappegaaisberg – ‘n uitgestrekte gebied. Vader Jacob se derde seun Japie word bygestaan om hierdie  plaas in 1869 te koop. En so vestig Japie Dorpstraat en sy eggenote Sannie Schabort hul in die middedorp op ‘n plaas. Hulle is mettertyd ouers van nege uitsonderlike kinders wat later bekend sou staan as die Libertas Parva Tak. Die plaas self het geleidelik van wingerde na  woongebiede verwissel en vandag is daar slegs die pragtige ou woonhuis van die oorspronklike boerdery sigbaar. Libertas Parva beslaan die gebied tussen Vredelust en die buurplaas Oude Libertas wat aan ‘n broer van Japie Dorpstraat behoort het. Sy buurman was Gideon Johannes Krige – takvader van die Oude Libertas Tak.

Nancy

Die oudste seun van die stamvader het aanvanklik op Groote Zalze buite Stellenbosch geboer. Maar sy seuns het later weg van Stellenbosch beweeg en in die Paarl gaan vestig. So koop nog ‘n Willem Adolph [b3c9d2] vir hom die plaas Nancy net buite die dorp waar en sy vrou Helligonda de Villiers ‘n gesin van elf kinders grootmaak. Hy boer hoofsaaklik met vrugte en dit stel hom in staat om goed vir sy gesin te sorg en om ook sy seuns by te staan met die aankoop van hul eie plase naby Piketberg. Sy seun Dirk neem later oor op Nancy, maar omdat laasgenoemde nie kinders het nie, verkoop hy mettertyd die boerdery. Van Willem en Helligonda se nageslag sou oor jare telkens dieper in die binneland verhuis en selfs so ver as in Zambia gaan boer.

Skrik-van-Rondom

Ten weste van Piketberg lê die Verlore-vallei – ‘n streek met ‘n ryk geskiedenis van inheemse stamme. In 1869 koop Willem Adolph van Nancy in die Paarl ‘n plaas langs die rivier en gee dit die naam Skrik-van-Rondom. Hier vestig sy seun Abraham Benjamin en begin ‘n Krige-tradisie wat tot onlangs toe nog ‘n heel spesiale kultuur verteenwoordig het. Maar vandag woon daar geen Kriges meer in hierdie kontrei nie – net hul historiese voetspore is plek-plek nog sigbaar. Die opstal herinner aan die outydse treinhuis. Daar is vyf vertrekke - wat binne die gebou aanmekaar geskakel is – met een voordeur en een agterdeur. Die boumateriale kom uit die omliggende veld en die vloere is met perskepitte afgerond. Uit hierdie geweste kom die Piketberg Tak – een van die kleurvolste en takrykste takke van die Krige-familie.

Ander Interessanthede

Babas oor die generasies

Daar is honderde foto’s, skilderye en tekeninge van Krige babas oor die generasies heen. Kom ons kyk bietjie.

Lees verder

Troupaartjies

In die amper 300 jaar in Suid-Afrika was daar al amper 3000 huwelike in die Krige-familie. Kom ons kyk na ‘n paar.

Lees verder

Heimat

Die vraag is al oor baie generasies gevra: Waar kom die Kriges vandaan? Die antwoord was gerieflik breed gestel: uit Duitsland, natuurlik! Eers teen 1972 kon ons ‘n volledige...

Lees verder