Die boek bestaan uit twee volumes wat langs mekaar in ‘n houer staan.

Maar kom ons loer na wat agter die buiteblaaie aangaan!

Dis ‘n deftige boek van 550 bladsye en meer as 1000 foto’s. Daar is altesame 18 hoofstukke waarvan 11 in Volume Een en 7 in Volume Twee ingedeel is. Aan die einde van elke volume is daar ‘n lywige indeksregister waarmee die leser enige Krige of aangetroudene se posisie in die familieboek kan naslaan. Die bedoeling is dus nie dat die boek eenkeer gelees word en dan op die solder beland nie. Dit is geskik as naslaanboek om telkens weer gebruik te word.

Volume Een is soos ‘n reisbeskrywing

Die stamvader se reis behels vier hoofstukke gebaseer op ‘n omvattende boekery in die Krige Argief. Die leser bevind hom in Lienen en Brochterbeck met foto’s en taalgebruik en selfs toepaslike liedjies midde-in die leefswyse van die vroeë 1700s. Op die skip is die vier-maande vaart ‘n nagmerrie en geen wonder dat ou Wilhelm koue voete kry nie!

Hier aan die Kaap begin die reise van die volgende generasies – aanvanklik beperk in afstand, maar mettertyd aansienlik in die innerlike. Daar is stootkragte en daar is trekkragte. Daar is bewegings in alle rigtings: na die Sandveld, na die Roggeveld en na die vlaktes van die ZAR. Die een verhaal word skielik talle verhale met oneindig veel dimensies. Maar weereens is daar verhale van swaarkry en vasbyt.

Volume Twee is soos ‘n suksesverhaal.

Die familie-takke wat rondom Stellenbosch vestig, floreer rustig in die Victoriaanse kultuur. Daar is verskillende verhale wat op voorspoedige boerderye afspeel met groot gesinne wat skoolgaan en universiteitsopleiding op hul voorstoep geniet. Dit is die goue era van die Kriges in Stellenbosch. Die jongmense in die volgende generasies versprei oor die land as predikante, dokters, sakebestuurders en geleerdes. Dit is ‘n verhaal van goeie tye.

Die Krige Annale laat die leser diep nadink oor swaarkry en oor welvaart veral as hy of sy die familienaam dra.

Ander Interessanthede

Troupaartjies

In die amper 300 jaar in Suid-Afrika was daar al amper 3000 huwelike in die Krige-familie. Kom ons kyk na ‘n paar.

Lees verder

Die lekker van 'n familie-boek skryf

Johan Krige deel sy Krige Annale-ervarings.

Lees verder

Spesiale Aanbod Op Die Krige Annale

Kersfees is om die draai!

Lees verder