Ontmoet 'n paar van die Krige-familie se geneeskundiges:

Fanie Krige

Hy word in 1863 as die elfde seun van Vader Jacob op die familieplaas Welgevonden gebore. Na skool kry hy die geleentheid om in Duitsland te studeer en as mediese dokter te kwalifiseer. Met sy terugkeer na die Kaap praktiseer hy eers in Richmond en dan vir die res van sy lewe in Kaapstad. As dokter is hy 'n bekende figuur : gekleed in manel en hardebol keil besoek hy sy pasiënte met die trem.

In 1897 publiseer hy 'n roman met die titel Hugo. Dit is eintlik sy outo-biografie wat 'n goeie insig gee in die denke van die Kaapse en Europese samelewings tydens die laat 1800’s.

Dr Fred Krige as mediese student op Oxford.

Fred Krige

Hy is in 1893 te Stellenbosch gebore waar hy studeer aan PRG en dan in die Klassieke Tale aan US. As Rhodesbeurshouer kry hy die kans om Medies aan Oxford te gaan studeer. Na verskeie grade en diplomas – hy sou uiteindelik nie minder as 10 grade ontvang - word hy eers dokter in die Sendingveld en daarna huisarts onder andere op Standerton. Hier ontwikkel hy en die plaaslike apteker Daniel die destydse baie bekende KPP of te wel Kriel PynPille. Die naam is afgelei van Krige+ Daniel = Kriel.

Tydens 'n derde besoek aan Europa spesialiseer hy as Verloskundige in Wene, Dublin en Londen. Tuis vestig hy hom in Johannesburg en doseer ook aan UP. Verskeie publikasies vloei uit sy pen en hiervoor ontvang hy Ere-lidmaatskap van die SA Akademie. Hy vervul ook 'n baanbrekersrol in die vestiging van Afrikaans in die mediese beroep in SA.

OomFred is van jongs af 'n kranige sportman – hy speel rugby vir Oxford, speel tennis en swem kompeterend en is sy lewe lank 'n gholfspeler. Hy is ook 'n trotse ondersteuner van die Krige-Bond.

Sy veelsydige lewe word geboekstaaf in sy outo-biografie : To cure sometimes.

Oom Fred is voorwaar een van die merkwaardigste lede van die Krige-familie.

Van links na regs: Dr Hennie Krige en Dr Hendrik Krige

Hennie Krige

Hy is in 1897 in Stellenbosch gebore as kleinseun van Japie Dorpstraat. Na sy skoolopleiding gaan hy na Dublin waar hy as dokter kwalifiseer. Na verdere studies in Londen en Stockholm spesialiseer hy as radioloog. Hy werk eers in Johannesburg en daarna by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad.

Hy word allerweë as ‘n baanbreker op die gebied van Radiologie in Suid-Afrika beskou en hiervoor ontvang hy die ere-medalje van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Sy oudste seun – ook Hendrik – volg in sy vader se voetspore en praktiseer ook as radioloog in Johannesburg en later in Stellenbosch.

Van links na regs: Dr De Wet Krige en Dr Boy Krige (middel)

De Wet Krige

Hy word in Stellenbosch in 1901 as tweede kleinseun van Gideon Krige van Oude Libertas gebore. Nadat hy aan die Paul Roos Gimnasium matrikuleer, kwalifiseer hy as tandarts aan die Universiteit van Liverpool.

Hy begin ‘n praktyk in Wepener in die OVS waar hy as burgemeester en later ook as LPR verkies word. Vanaf 1949 praktiseer hy in Middelburg, Transvaal waar hy na 60 jaar in die aktiewe praktyk uittree en na sy dogter Louise op Port Alfred verhuis.

Hy speel voetbal vir Liverpool Universiteit en is ook ‘n kranige gholfspeler en grootwildjagter. Die sentiment wat sy ouers in sy voorname ingebou het, het hy nooit prys gegee nie – tot met sy afsterwe in die ouderdom van 90 jaar!

Sy enigste seun Johan David – noemnaam Boy- word ook tandarts en praktiseer in Durban.

Van links na regs: Dr David Krige, Dr Frans Krige en Dr Catherine Krige

David Krige

Hy is in 1917 op Stellenbosch gebore as kleinseun van Johan David van Bottelary. Hy matrikuleer aan die Paul Roos Gimnasium en studeer vervolgens M. Com aan US en daarna as mediese dokter aan UK. Vanaf 1947 praktiseer hy op Stellenbosch en word ‘n geagte huisarts in die dorp. In 1974 word hy as Superintendent van die Stellenbosch Hospitaal aangestel. Hy is ‘n entoesiatiese tennisspeler terwyl hy en sy vrou Joan nogal ‘n besonderse belangstelling in die Kriges se herkoms toon.

Hul tweede seun Frans word ook mediese dokter en werk baie jare lank in die Sendingveld voordat hy en sy vrou Cebella met hul gesin terugkeer en in Worcester gaan vestig.

Later kwalifiseer David en Joan se kleindogter Catherine [van oudste seun Niel Krige] ook as Medikus in Stellenbosch en spesialiseer daarna in Skotland in Pediatrie. Sy keer terug en praktiseer tans in Kaapstad.

Links Lou Krige. Regs Die gesin van Dr Lou en Pat Krige tydens 1973 Krige Fees Saam met hul seun Luke en dogter Alice en ouma Alice Krige.

Lou Krige

Louis Edmund word in 1919 in Worcester gebore en bekwaam hom as mediesedokter aan UK. Tydens Wêreldoorlog 2 doen hy mediese diens in Italië waarna hy ‘n praktyk in Upington begin.

Hy trou met Patricia Cooke en hulle het twee seuns Jake en Luke en ‘n dogter Alice. Lou gaan later na Londen en spesialiseer in Radiologie. Met sy terugkeer vestig hy ‘n nuwe praktyk Port Elizabeth.

As hy op 68 aftree, word hy distriksgeneesheer sodat hy mediese dienste aan minder gegoedes kan lewer en selfs in tronke mense kan verpleeg. Hiervoor word hy deur die Koningin van Engeland tot Riddervan die Orde van St John geslaan. Pat is ‘n kliniese sielkundige en word later ‘n pos by UPE as professor in haar vakgebied aangebied. Hul kinders presteer almal:

  • Alice word ‘n bekende internasionale aktrise
  • Jake word ‘n mediese chirurg in Kaapstad en doen baanbrekerswerk in die behandeling van kanker. Hy is tans professor aan UCT
  • Luke begin ‘n mediese praktyk in PE waar hy werk as hart- en longspesialis

Ander Interessanthede

Vars Blik op die Familiewapen

Die familiewapen is digitaal herontwerp.

Lees verder

Stories wat jy dalk misgeloop het

Familiesake en interessanthede in onlangse nuusbriewe

Lees verder

Historiese Opstalle

Meeste Kriges kan hul herkoms aan ‘n plaas koppel. Kom ons begin by die oudste van hierdie ses plase.

Lees verder