De Gouden Eeuw van Nederland lei tot ‘n soortgelyke gesegde in Afrikaans – die Goue Eeu.

Waar kom dit vandaan?

Die naam verwys na 'n periode in die geskiedenis van die Noordelike Nederlande, wat toe die Republiek der Zeven Verenigd Nederlande gevorm het. Gedurende hierdie tydperk, wat rofweg met die 17de eeu ooreenkom, ondervind die land 'n bloeiperiode op die gebied van handel, wetenskap en kuns. Die Republiek bereik 'n vooraanstaande militêre posisie in Europa, veral wat sy vloot en seemag betref. Begin blom met die stigting van VOC in 1602 en begin kwyn met die uitbreek van die Frans-Nederlandse Oorlog in 1672.

Ons praat soms van die Goue Era van die Kriges in Stellenbosch.

Waar kom dit vandaan?

Die stamvader se twee seuns vestig op plase by Stellenbosch – die een op Groote Zalze en die ander op Uiterwyk. Hulle verteenwoordig die tweede generasie aan die Kaap.

Die derde generasie verdeel in twee groepe – die seuns van Groote Zalze wat na die Paarl verhuis, en die een seun van Uiterwyk wat net daar op sy eie werf bly. Alhoewel die derde generasie op Uiterwyk ook slegs een seun Willem Adolph behels, sorg sy seuns dat hy nie minder as 39 kleinkinders het nie. Hulle verskyn vanaf 1840 op die Stellenbosch toneel.

Teen 1865 besit hierdie nageslag verskeie plase in die distrik - Vredelust, Libertas Parva, Oude Libertas, Uiterwyk en Welgevonden. Al hierdie plaaskinders gaan mettertyd skool in die dorp en later word baie van hulle studente aan die plaaslike universiteit. Ook die kinders van Kriges wat nie op hierdie plase boer nie, maar ‘n ander loopbaan gekies het, kom as ‘n reël om in Stellenbosch te studeer. 

Dit wemel van jong Kriges by Stellenbosch Gimnasium [later Paul Roos Gimnasium], by Bloemhof Meisieskool en by die Victoria College.

Die Goue Era van die Kriges in Stellenbosch het nie skepe en pragtige kastele om in ‘n weelderige omgewing te vertoon nie – die vrug op generasies se moeite en inspanning. In ‘n pioniersomgewing is hul vertoonstuk eerder hul groot en welversorgde gesinne en hul nalatenskap lê verskuild in opleiding en kulturele waardes, sowel as die skep van geleenthede vir hul kinders en kleinkinders.  

Van links na regs:  Die gesin op Oude Libertas | Die gesin op Libertas Parva | Die gesin op Vredelust

In die nuwe Krige Annale – 1721 tot 2021 word daar heelwat inligting verskaf oor hierdie drie indiwiduele Kriges. Hulle was suksesvolle boere, het diens gelewer in die gemeenskap op dorpsrade, skoolrade en kerkrade en drie broers het aansienlik bygedra om die universiteit te vestig. Van die latere geslagte het leiding in die studente-gemeenskap geneem en veral die rugby-spanne gevul. Bydraes tot kuns en kultuur op nasionale vlak het telkens na vore gekom.

As daar vandag na Stellenbosch en sy gemeenskap gekyk word, dan het die dorp eintlik in ‘n stad ontwikkel en het die Kriges se rol in die breë vervaag. Hierdie tradisionele familienaam word nog gesien en gehoor, maar verreweg nie op dieselfde skaal soos ‘n eeu gelede tydens die Goue Era van die Kriges nie.

Ander Interessanthede

Heimat

Die vraag is al oor baie generasies gevra: Waar kom die Kriges vandaan? Die antwoord was gerieflik breed gestel: uit Duitsland, natuurlik! Eers teen 1972 kon ons ‘n volledige...

Lees verder

Babas oor die generasies

Daar is honderde foto’s, skilderye en tekeninge van Krige babas oor die generasies heen. Kom ons kyk bietjie.

Lees verder

Spesiale Aanbod Op Die Krige Annale

Kersfees is om die draai!

Lees verder