Toe Imar Krige, ‘n grafiese ontwerper van Somerset-Wes en lid van die Caledon-tak, vroeër hierdie jaar die taak opgelê is om die Krige-webtuiste te herontwerp, het hy besluit om weg te spring met die familiewapen.

“Vir hierdie tipe projek sal ‘n kliënt se korporatiewe identiteit gewoonlik die basis van my werk bepaal – byvoorbeeld watter kleure ek gebruik, ikone ek ontwerp en die algemene ‘gevoel’ van die webtuiste,” vertel Imar.

“Met die Krige-webtuiste het ek uit die aard van die saak nie hierdie tipe riglyne gehad om mee te werk nie, maar eerder die familiewapen waarin al die inligting wat ek sou benodig, netjies vasgevang is.”

Digitale herontwerp

Verwysings wat deur Imar gebruik is

Wat Imar egter vinnig besef het, is dat hoewel die familiewapen in verskeie hardekopie-monderings bestaan, dit nog nie in ‘n digitale formaat (buiten foto’s van die harde kopieë op Google) beskikbaar gemaak is nie.

Só besluit hy om die taak op homself te neem.

“Ek het drie verskillende weergawes van die wapen as inspirasie vir my ontwerp gebruik – twee tekeninge en een wat in loodglas gegiet is,” vertel hy.

Hy gebruik ook Die Groot Afrikaanse Familienaamboek van C. Pama om verdere navorsing te doen en bevind, onder andere, dat die kleure wat met die Krige-familiewapen geassossieer word, rooi en silwer is.

Ontleding van heraldiek

Ontleding van die verskeie elemente van heraldiek

Om die wapen akkuraat voor te stel, verdiep Imar hom in die ontleding van heraldiek en ontdek dat elke familiewapen die volgende in gemeen het:

  • Skild: Dit is die hoofdeel van die wapen en dra die kenteken. In die geval van die Krige-familiewapen is dit die figuur van ‘n handelaar wie se een hand ‘n swaard vashou en die ander op sy heup rus.
  • Helm: Bo-op die skild, pryk die helm. Verskillende helms stel verskillende range voor. In die geval van die Krige-familiewapen, is dit ‘n traliehelm wat na die linkerkant kyk. Hierdie is blykbaar ‘n kenteken van die adelstand.
  • Krans: Bo-op die helm word ‘n krans geplaas.
  • Helmkroon: Uit die krans pronk ‘n helmkroon van ‘n aard. In die geval van die Krige-familiewapen, is dit ‘n hand wat ‘n swaard vashou.
  • Dekkleed: Die dekkleed was oorspronklik 'n doek wat rondom die helm vas was om die hitte van die son af te weer. In die ontwerp van familiewapens, neem dit die vorm aan van ‘n dekoratiewe versiering wat stroke materiaal voorstel.

Hy het veral versigtig te werk gegaan met die kenteken, wat natuurlik die man met die swaard is.

“Ek het besef dat dit uiters belangrik is om die verskeie elemente en simbole, sowel as die kleure, korrek voor te stel om dit outentiek en akkuraat te hou.”

Gelukkig het die drie familiewapens wat hy as visueleverwysings gebruik het, meer ooreenkomste as verskille gehad wat die ontwerpproses makliker gemaak het.

“Ek was verlig om te sien dat al drie my verwysings die kenteken op ‘n soortgelyke wyses voorstel. In elkeen dra die man ‘n gepunte hoed en dra hy ‘n swaard met ‘n v-vormige hef. Hy het ook ‘n ‘bob’-haarstyl en dieselfde houding – met die hand op die heup,” vertel Imar.

‘n Interessante waarneming, is dat die hand wat op die man se heup rus, met die duim na voor wys.

Verwysings wat vir die helm, hoed en swaard gebruik is

Die volgende stap was om navorsing te doen oor hoe ‘n handelaar in die middeleeue sou antrek en só gebeur dit dat die man met die swaard ‘n klein gedaanteverwisseling vir sy digitale persona ondergaan.

Pleks van die plat skoene wat hy in ander weergawes van die familiewapen dra, het die digitale man ‘n lekker paar stewels aan en spog hy ook met ‘n ry knope, sowel as ‘n gordel.

Die een teenstrydigheid tussen die onderskeie wapens was die rigting waarin die man kyk. In een van die verwysings kyk hy reguit vorentoe, maar in altwee die ander kyk hy links. In hierdie geval, besluit Imar om hom maar by die meerderheidsmening te skaar.

Om balans te vind

Die eindproduk van Imar Krige se ontwerpproses

Vir hom was die grootste uitdaging van die hele proses om die balans tussen eenvoud en detail te vind.

“Aan die een kant wil ‘n mens dit so eenvoudig as moontlik hou sodat dit nie oorweldigend voorkom nie,” sê hy. “Maar aan die ander kant, moet dit tog getrou bly aan die meer dekoratiewe styl van familiewapens.”

Om hierdie balans te vind, moes Imar sekere aspekte verskeie kere oorteken. Hy het veral met die dekkleed geworstel, maar uiteindelik ‘n perfekte asimmetrie – wat die hand met die swaard bo-op die helm akkommodeer – bewerkstellig.

‘n Hernude waardering vir familiegeskiedenis

In die loop van hierdie projekte – die herontwerp van die familiewapen en die webtuiste – is sy belangstelling in sy familiegeskiedenis weer hernu, sê Imar.

“Hierdie ontwerpe het my die geleentheid gebied om dieper te delf in iets waarin ek al lankal belangstel, maar waaraan ek nooit tyd aan afgestaan het nie,” vertel hy. “Dit het my geïnspireer om verdere navorsing te doen en meer oor ons herkoms te leer.”

Een ding wat Imar as waarlik uitsonderlik oor die familiegeskiedenis uitlig, is die feit dat die van ‘Krige’ soos ons hom ken, in Suid-Afrika gebore is toe die eerste voorsaat in 1721 hier aanland.

In die nuwe Krige Annale skryf Johan Krige: "Wilhelm Kriege aus Brochterbeck het intussen Willem Krige van Lingen geword. Dit is deur ’n amptenaar van die VOC besluit en aangeteken."

“Ek was verbaas om uit te vind dat, in Duitsland, die familie as Kriege bekendgestaan het,” sê hy. “Ons voorsaat het inderwaarheid ons van geskep met sy aankoms. Dit maak Suid-Afrikaanse Kriges uniek.”

Besoek gerus die Heraldiek-blad om meer te lees oor die Krige-familiewapen.

Ander Interessanthede

Genealogie

Genealogie is die deftige woord vir alles wat verband hou met ‘n familie se stamregister. In SA begin so ‘n register by die stamvader – die persoon wat die land binne gekom het...

Lees verder

Stories wat jy dalk misgeloop het

Familiesake en interessanthede in onlangse nuusbriewe

Lees verder

Die lekker van 'n familie-boek skryf

Johan Krige deel sy Krige Annale-ervarings.

Lees verder