Tydens my omswerwinge in die 1970’s onder die breër Krige familie in SA het ek ‘n paar verskillende voorstellings van ons familiewapen gesien. Die mees algemene een was van ‘n drawwende perd.

Toe ons later in die 1980’s besoeke aan talle Krieges in Duitsland aflê, het ons gou besef dat Frau Elisabeth Kriege van Lienen eintlik die matriargale figuur onder die Krieges van ons herkomsland was. Sy het vlak naas die kerkie gewoon waarin ons voorgeslagte gedoop, getroud en begrawe is. En op ‘n glasruit in dié kerkie is daar ‘n familiewapen van die oer-Krieges.

Kriege familiewapen op glasvenster

Tante Elisabeth was ons baie goedgesind en het ‘n kopie van die wapen aan ons geskenk asook ‘n brief waarin sy toestemming aan die Kriges in Suid-Afrika gee om hierdie wapen as hul eie te voer. Daar is min families in SA wat ‘n soortgelyke vergunning van hul herkomsfamilie kan toon.

“die familienaam word verklaar as strydhoofdig”

Die wapen toon ‘n mannejie in rooi met ‘n swaard in regop geplaasde houding. Hy is egter geen kryger nie, want sy kleding is dié van ‘n handelaar. Dit klop, want die Krieges van Lienen was ‘n handelaarsfamilie. Die swaard is die simbool van geregtigheid. Die betekenis van die familienaam word verklaar as strydhoofdig en het niks met ‘n soldaat of oorlog te doen nie!

Krige familiewapen in Die Groot Afrikaanse Familienaamboek

Hierdie wapen verskyn in die publikasie Die Groot Afrikaanse Familienaamboek van dr C Pama as die enigste geldige weergawe van die Kriges se heraldiese familiewapen. Dit staan enige Krige vry om dit te dupliseer en as sy eie wapen te gebruik.

Ander Interessanthede

Wat het van die Krige Fees 300 geword?

Nuwe datums in 2022 vir die Krige Fees

Lees verder

Stellenbosch Kriges: Die Goue Era

'n Terugblik na die 1800s.

Lees verder

Troupaartjies

In die amper 300 jaar in Suid-Afrika was daar al amper 3000 huwelike in die Krige-familie. Kom ons kyk na ‘n paar.

Lees verder